Reusegebergte

Die bergpiek Mały Szyszak, soos gesien vanuit Tępy Szczyt, Pole

Die Reusegebergte (Tsjeggies Krkonoše, Pools Karkonosze, Bergsilesies Riesageberge of Riesegeberche) is die hoogste bergreeks in Tsjeggië en die Poolse gewes Silesië. Dit loop langs die grens tussen Pole en Tsjeggië, met die bergpiek Schneekoppe (Duitse naam; Pools: Śnieżka; Tsjeggies: Sněžka) as sy hoogste punt (1 602 m bo seevlak).

Die bergreeks het 'n subalpynse karakter met glasiale keteldale, bergmere en steil rotswande. Die bron van die Elbe-rivier is naby die bergreeks se kruin teen 'n hoogte van byna 1 400 m en sowat 7,5 km noordwes van die dorpskern van Špindlerův Mlýn (Duits: Spindlermühle) in Tsjeggië geleë.

Die Reusegebergte is die hoogste gedeelte van die groter Sudete-bergreeks en was tot en met 1945 ook die hoogste punt van die Duitse Middelgebergte. Hier word ook die meeste sneeuval van alle Europese middelgebergtes aangeteken sodat dit 'n belangrike bestemming vir wintersport geword het.

Die bergreeks is respektiewelik in 1959 (Pole) en 1963 (Tsjeggië) tot nasionale park verklaar. Groot dele van die Reusegebergte word daarnaas op internasionale vlak as biosfeer-reservate deur Unesco beskerm.

In legendes en sprokies word die Reusegebergte met die berggees Rübezahl (Tsjeggies: Krakonoš, Pools: Liczyrzepa of Duch Gór) verbind.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search